Digter, Dromer, dom-verlore
‘n Wandeling uit my verlede
die toekoms in!
‘n Tree nader aan totale ontgogeling
‘n Handbreedte vanaf absolute gekheid.
Jy
Warm-ys wat skitter
soos ‘n blou saffier,
vermom met die gloed van vuur.
Jy kom op die golf van musiek
Skielik, uit die niet.
‘n Beskutting nooi my nader
Huiwerend, dog nuuskierig
om te weet, te voel,
beskut teen aanslae van oral.
‘n Skermutseling volg
my hart rebelleer
teen enige rede, teen enige raad
sodat dit die veerligste
tintelende gevoel
kan ervaar
Digter, Dromer, verlief-verlore
Die dans na die hemel begin…
Die dans na die hemel is
oordonder deur onhoorbare musiek.
Die dans na die hemel is
omring met mense wat onsigbaar is,
glad nie bestaan.
Niks maak saak
behalwe om saam met jou te wees,
by jou te wees
Uiteindelik is ons almal net
Aspoestertjies
wat die hemel ervaar
as die prins jou raaksien by die bal.
Middernag is als verby –
Ek verloor net nie my skoen,
maar my hart.
Digter, Dromer, hart-verlore